top of page

'N WÊRELD VAN EEN LIEFDE EN BAIE LEUNS

’n Persoon met ’n pruik en bril hou ’n regterhamer vas en glimlag breed.
Teks: "INTERNASIONALE REG EN IMPERIALISME", "’N WÊRELD VAN EEN LIEFDE EN BAIE LEUENS."

Deur Abrie JF Kilian.


In ooreenstemming met die reëls van die Kanadese Balievereniging se Kompetisie vir Internasionale Reg, is ek tans nie in staat om die volledige artikel te deel voordat dit amptelik gepubliseer is nie. Sodra publikasie plaasgevind het, sal hierdie bloginskrywing bygewerk word met ’n direkte skakel. Intussen volg hieronder ’n oorsig van die CBA-artikel. Vir diegene wat belangstel in verdere studie, is die volledige bronnelys van die joernaalartikel, onderaan verskaf.

INLEIDING

In die vergulde sale van internasionale reg word liefde beskou as die hoogste aspirasie van die mensdom. Handveste en verdragte besing dit; verklarings bevestig dit; ooreenkomste beskerm die reg om te trou en ’n gesin te vorm asof dit die hoeksteen van beskawing self is. En tog, agter hierdie verhewe proklamasies, sluip ’n stiller waarheid in die skaduwees: nie alle vorme van liefde word as waardig beskou nie—veral nie dié wat waag om te vermeerder nie.


Gebaseer op my akademiese artikel, One Love, Many Lies: How International Human Rights Law Enforces Monogamous Moral Imperialism, ingedien vir die opstelkompetisie van die Kanadese Prokureursvereniging se Internasionale Regseksie, poog hierdie bloginskrywing om—met humor en hopenlik insig—die stil argitektuur van uitsluiting te ontboot, wat opgesluit lê in die dieselfde instrumente wat voorgee om menswaardigheid te beskerm.


Want terwyl internasionale reg die huwelik vier, straf die plurale huwelike. In die naam van gelykheid verbied dit keuse. In die naam van waardigheid ontken dit kulturele identiteit. Onder die retoriek van universeelheid skuil ’n stil, imperialistiese eenvormigheid: een model van liefde, een sjabloon vir familie, een morele ideaal vermom as ’n universele mensereg.


Hierdie artikel lig die sluier en ontbloot hierdie teenstrydigheid—dit volg die genealogie van die monogamie-alleen-ryk, die botsende verdragte wat met hulself in oorlog is, en die lewende gemeenskappe wat verpletter word onder die gewig van ’n een-maat-pas-almal moraliteit.


Maak gereed om ’n wêreld te ontmoet waar liefde moet aanpas—of veroordeel word.

DIE GEHEIME GESKIEDENIS VAN MONOGAMIE-alleen-RYK

Lank voordat die huwelik as ’n “mensereg” verklaar is, was dit ’n werktuig van die ryk. Monogamie-alleen—daardie verheerlikte standaard van die moderne Weste—het nie deur sagsinnige oortuiging of wêreldwye instemming die troon beklee nie. Dit is deur verowering gekroon—die nageslag van Grieks-Romeinse siviele reg, gedoop in die asketiese waters van die vroeë Christendom, en versprei tot die uithoeke van die aarde onder die tweelingbannier van kruis en kroon.


In my oorspronklike artikel het ek aangetoon hoe monogamie-alleen, vêr van ’n tydlose universele waarheid, ontstaan het uit die sosiale argitektuur van Rome. Daar het die “een man, een vrou” model nie liefde gedien nie, maar bloedlyn: ’n doeltreffende meganisme om erfreg, burgerskap en eiendomsregte binne patrisiërfamilies te bewaar. Die Christendom het hierdie praktiese reëling verhef tot ’n sakrament, en poliginie—eens algemeen onder die Hebreeuse aartsvaders—beskou as ’n vlek op geestelike reinheid.


Maar monogamie-alleen se werklike triomf het nie net deur teologie gekom nie. Dit het hand aan hand met koloniale ambisie opgeruk. Soos Europese ryke uitgebrei het, het hulle nie net voorlaaier en handel gebring nie, maar ook huwelikswette: inheemse volke van Afrika tot Asië en die Amerikas is gedwing om hul diverse huwelikstrukture in te ruil vir die “beskaafde” kerngesin. Onder koloniale ordonnansies en sendelingywer is meervoudige huwelike as primitief, immoreel en onwettig verklaar—’n sosiale orde as fondasie vir regsorder en 'n order om te gerespekteer nie.


Dus, wat internasionale reg vandag voorhou as ’n a-politiese norm, is in werklikheid die nalatingskap van imperialisme. Monogamie se heerskappy is nie die vrug van menseregontwikkeling nie, maar die oorblyfsel van verowering—vandag versier met die diplomatieke fynheid van universeelheid, steeds deurdrenk met die ou geur van dominansie.


WANNEER LIEFDE EN REG BOTS — TEENSTRYDIGHEDE IN MENSEREGTE

Internasionale menseregtereg, soos ’n prediker met ’n silwer tong, verkondig vryheid en waardigheid in elke toonaard — totdat dit op die tweede vrou struikel. Dan raak die koor skielik stil, die preek wankel, die pêrels spat en vryheid onttrek agter die gepoleerde deure van morele eenvormigheid.


In my volledige artikel ondersoek ek hoe twee groot verdragte — die Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte (ICCPR) en die Konvensie oor die Uitskakeling van Alle Vorme van Diskriminasie teenoor Vroue (CEDAW) — vasgevang is in ’n leerstellige burgeroorlog oor die vraag van poliginie. Die ICCPR, kampvegter vir godsdiensvryheid en kulturele deelname, hou die poorte wyd oop vir uiteenlopende huwelikstradisies. CEDAW, onder die vaandel van geslagsgelykheid, eis dat daardie poorte gesluit word — vasgebout, toegemessel, en begrawe onder die stapels van verbod.


Hierdie spanning is nie bloot ’n akademiese nuanse nie. Dit raak die kern van menseregte se geloofwaardigheid. Die ICCPR, bindend en plegtig, verklaar dat kulturele lewe, geloofsoortuiging en gesinsoutonomi, heilige regte is. Tog dreun CEDAW se Algemene Aanbeveling 21 — ’n stuk sagtereg, nie ’n bindende verdrag nie — dat poligamiese huwelike ontmoedig en uiteindelik verbied moet word, met gelykheid as die wapen van keuse.


En so ontstaan, wat ek beskryf het as die verskynsel van sagtereg-kruip: nie-bindende interpretasies wat soos klimop oor die klipmure van bindende ooreenkomste rank, en selfs plegtige verdragwaarborge buig na ’n enkelvoudige visie van gesinslewe. ’n Visie wat opvallend Westers is, opvallend huidig, en opvallend onverdraagsaam teenoor verskeidenheid.


Menseregte, eens ’n skild teen tirannie, dreig nou om ’n spieëlbeeld van tirannie self te word — nie meer teen wreedheid of onreg nie, maar teen veelvuldige liefdes wat nie in die monogamie-allen sjabloon pas nie. In sy poging om die reg op liefde te beskerm, begin die reg bepaal wie ons mag liefhê — en hoe.


POLIGINIE IN DIE HOF — KANADA EN DIE SKADE WAT NOOIT WAS NIE

As internasionale reg monogamie-alleen soos ’n kroon dra, bewaak Kanada dit soos ’n krygsvesting. In die gewyde sale van die Hooggeregshof van Brits-Columbië Kanada, is die fondamente van vryheid en verdraagsaamheid op die proef gestel: Kan ’n nasie wat diversiteit en godsdiensvryheid vier, ’n huweliksvorm kriminaliseer wat reeds vir duisende jare bestaan?


In my akademiese artikel ontleed ek hoe hierdie vraag beantwoord is — of eerder, ontwyk is — in die uitspraak Reference re: Section 293 of the Criminal Code of Canada. Die hof het Kanada se strafregtelike verbod op poliginie gehandhaaf, al het dit erken dat hierdie wet die reg op godsdiens, uitdrukking en assosiasie skend, soos gewaarborg deur die Kanadese Handves van Regte en Vryhede.


Die hof se regverdiging? Nie konkrete bewyse van sistemiese skade nie, maar ’n sogenaamde “redelike vrees vir skade.” ’n Juridiese voorgevoel, geklee in regterlike gewaad. Op grond van staaltjies uit afgesonderde sektes, sosiologiese veralgemenings en teoretiese risiko’s, is poliginie veroordeel — nie omdat dit mense se lewens duidelik verwoes nie, maar omdat dit dalk kan.


Intussen was die vroue wat uit eie keuse in veelvuldige huwelike leef — waardig en met oortuiging — opvallend afwesig in die hof. Dié stilte was nie uit onverskilligheid nie, maar het voortspruit uit ’n stelsel wat nie bereid was om iets te hoor wat die gemaklike narratief van slagofferstatus kon ontwrig nie.


Kanada se paradoks het duidelik geword: ’n land wat reeksmonogamie, oop verhoudings en honderde variasies van nie-tradisionele intimiteit beskerm — solank dit opeenvolgend, informeel of tydelik is — trek die swaard van die strafreg teen dié wat durf om meer as een verbond tegelyk te heilig.


Daarteenoor het jurisdiksies soos Suid-Afrika en Nigerië, soos ek in die artikel uitwys, veelvormige regsraamwerke aanvaar: hulle reguleer poliginie met waardigheid, beskerm vroue se regte, en bewaar kulturele integriteit sonder om menseregte op te offer. Hierdie jurisdiksies het vir regulering verkies, teenoor uitwissing. Kanada het, helaas, hulself met vrees gealiëer.


Só bly Artikel 293 staan as ’n monument vir moderne morele imperialisme — ’n herinnering dat die wet, selfs in sogenaamd 'verligte lande', soms nie geregtigheid dien nie, maar die jaloerse bewaring van oorgeërfde norme.


DIE FEMINISTIESE MONOLIET — WIE SE STEM TEL REGTIG?

In die groot hofsaal van internasionale reg, waar vroueregte met ywer verdedig en hul waardigheid plegtig besweer word, heers daar ’n merkwaardige stilte: die afwesigheid van die vroue wie se keuses die Westerse sjabloon tart. In die naam van bevryding word hul stemme verdelg.


Soos ek in my artikel uiteengesit, is die dominante feministiese kritiek op poliginie — veral vergestalt in dokumente soos CEDAW se Algemene Aanbeveling 21 — dikwels gebaseer op ’n enkelvoudige narratief: dat alle vroue aspirant is tot die monogame-alleen, kerngesins-model; en dat enige afwyking daarvandaan ’n simptoom van onderdrukking is. Poliginie word met growwe kwashale geskilder as die vergestalting van patriargie, onderwerping en manlike heerskappy — met min ag geslaan op die fyn skakerings van werklike ervarings.


Denkers soos Chandra Talpade Mohanty, Saba Mahmood en Sylvia Tamale het lank reeds gewaarsku teen hierdie soort koloniale feminisme — ’n benadering wat verskil interpreteer as gebrek, en vroulike eieverteenwoordiging, as illusie. Vir die vrou wat vrywillig kies om ’n tweede of derde vrou te wees; wat in susterlike gemeenskap ’n skans teen eensaamheid vind; of wat in verbondshuwelik ’n heilige roeping sien — bied die monolitiese narratief geen ruimte , geen waardigheid, en geen erkenning, nie.


Patricia Dixon se etnografiese navorsing toon duidelik: talle vroue in poligame verbintenisse — van Afrika tot Amerika — getuig van solidariteit, gedeelde doel en geestelike vervulling. Hulle is nie gevange wat om verlossing smeek nie; hulle is argitekte van ’n alternatiewe huishoudelike orde.


En tog word hul getuienis in regsdiskoers behandel as ’n eksotiese afwyking, of erger nóg, as valse bewussyn afgemaak. Die groot ironie van hedendaagse feministiese ortodoksie is dus ontbloot: in haar strewe om vroue van opgelegde strukture te bevry, poog Dixon om self strukture op te lê.


Om vroue se regte te beskerm, is ’n edele onderneming. Maar om dit te doen deur aan hul liefdes voors te kryf, hul keuses te ontken, en hul gemeenskappe te kriminaliseer — is nie bevryding nie, maar onderdrukking. Dit is oorheersing, netjies geklee in die taal van sorg.


’N TOEKOMS VERDER AS EEN-MAAT-PAS-ALMAL

As geskiedenis ons enigiets leer, is dit dat diegene wat die hardste “universaliteit” uitbasuin, dikwels iets veel meer engs in die mou voer. En só is dit ook met die huwelik in internasionale reg: wat geprys word as egalitarisme, ontbloot by nadere ondersoek ’n dwingende vorm van eensvormigheid — nie ’n viering van diversiteit nie, maar ’n beperking daarvan.


Soos ek in my artikel uitspel, is die verhoging van monogamie tot morele ortodoksie nie die resultaat van kultuurooreenstemming nie, maar die produk van Romeinse regsraamwerke, kerklike dogma, en koloniale dryfkrag. Dit was, en bly steeds, ’n Westerse ideaal wat op ’n veelvormige wêreld afgedruk is.


Maar gesinne — nes die siele wat dit vorm — word nie uit een gietvorm gegiet nie. Deur eeue en beskawings heen het die mensdom sy huise op verskeie wyses gebou: van patriargale huishoudings van antieke Israel, tot matrilineêre netwerke in Afrika, tot veelwyfverbonde binne Islamitiese en Torah-reg. Liefde het nog nooit ingestem om deur wiskunde beperk te word nie.


As menseregte wil bly eer wat dit verkondig, moet dit die een-maat-pas-almal model verwerp. Dit moet beginselgebaseerde veelvormigheid omhels: ’n regstaal wat waardigheid, outonomie en instemming beskerm — sonder om eensug af te dwing.


Die werklike uitdaging is nie of die reg poliginie of ander meervoudige strukture kan akkommodeer nie — dit kan, soos Suid-Afrika en Nigerië reeds bewys het. Die vraag is of internasionale reg die nederigheid het om te erken dat vryheid nie blom wanneer liefde voorgesrkyf word nie, maar wanneer ons die verskeidenheid van liefde se vorme beskerm.


Eenvormigheid, ten spyte van sy glansryke voorkoms, is die vyand van ware vryheid. Diversiteit — nie as slagspreuk nie, maar as ’n regsrealiteit — moet die volgende grens van die menseregteprojek wees.


SLOTWOORD — WAARDIGHEID IN VEELVORMIGHEID

Internasionale reg roem hom daarop dat hy liefde eer, maar te dikwels bepaal die reg die vorm waarin daardie liefde moet bestaan. In die naam van vryheid word die hart binne ’n enkele struktuur ingesluit. In die naam van waardigheid word miljoene hul keuse ontneem — om hul eie pad te kies, hul eie verbond te sluit, hul eie huishouding te bou.


Soos ek in One Love, Many Lies uitwys, was die monogamie-alleen ideaal nooit ’n universele erfenis nie — dit was ’n imperiale uitvoerproduk: geslyp deur Romeinse juriste, geheilig deur kerklike dogma, en afgedwing deur koloniale strukture. Vandag word dit nie in stand gehou deur kulturele instemming nie, maar deur die traagheid van verdragte en die stille tirannie van sagtereg.


Maar liefde, soos vryheid, weier om geboei te word. Dit floreer in die wilde oorde van die verbeelding: in die tweede vrou wat met vreugde verwelkom word; in die gesamentlike haard van ’n groter huishouding; in die verbondsbande wat nie eenmalig is nie, maar vermenigvuldig in geloof en vertroue.


As menseregtereg sy siel wil herwin, moet dit afstand doen van die illusie dat vryheid gelyk is aan eendersheid. Dit moet ’n dieper, nederiger pluralisme omhels — een wat glo dat waardigheid nie verminder word deur verskil nie, maar daarin bevestig word.


Die ware maatstaf van ’n regverdige regstelsel is nie hoe netjies dit sy burgers se liefde organiseer nie, maar hoe vurig dit hul reg verdedig om te bemin — volop, in verbond, en in vryheid.


Liefde verminder nie deur gedeeld te word nie. Vryheid ook nie.


Die reg moet hieraan herinner word.

JOERNAALARTIKEL

I. Internasionale Instrumente


II. VN- en Verdragsliggaam-Dokumente


III. Nasionale Wetgewing en Regeringsverslae


IV. Regspraak


V. Boeke en Monografieë


VI. Boekhoofstukke


VII. Joernaalartikels


VIII. Aanlyn Bronne

Comments

Rated 0 out of 5 stars.
No ratings yet

Add a rating
Man holding a Bible in his hands.

CONTACT US

© 2024 by Maxima Potentia. Powered and secured by Wix

bottom of page